ATKV Jeugtak

ATKV
 ATKV-STRUISIE JEUGTAK

Die ATKV-Struisie Jeugtak is in Oktober 2014 gestig en het reeds talle suksesvolle projekte aangepak. Die doel van die jeugtak is om die taal en die gemeenskap te bevorder.   

Die jaar het met groot opgewondenheid begin met baie nuwe lede wat by ons ATKV-Struisiejeugtak aangesluit het.

Ons eerste projek van die jaar was ‘n gemeenskapsprojek waar ons ‘n skool in Bridgton, Sacred Heart Primêr (RC), besoek het. Die entoesiastiese lede het hul tyd opgeoffer om ‘n graad een Afrikaansklas skoon en mooi te maak. Aan die einde van die sessie was almal pootuit, maar eens dat dit ‘n genotvolle en ook leer-mekaar-ken uitstappie was.

Die ATKV-Struisies se mees uitdagende taak vanjaar was die aanbieding van die ATKV-Redenaarskompetisie se streeksuitdun op 23 April 2016. Al die redenaars in die Suid-Kaapstreek het kom wys wat in hul steek, in die hoop op ‘n plek in die semi-finaal. Dit was die eerste jaar dat ons skool gasheer speel vir die uitdunronde en die jeugtaklede het hul uitstekend van hul taak gekwyt deur op te tree as voorsitters, tyd- en puntehouers.

Gedurende die tweede kwartaal van die skooljaar het ons die manspersoneel van Hoërskool Oudtshoorn, ons eie “pa-figure” by die skool bederf met ‘n geskenk vir Vadersdag om hul te bedank vir die rol wat hulle daagliks in elke Struisie se lewe speel.

Ons skool bied jaarliks ‘n Jeugkuns- en Fotoweek aan waaraan leerders van alle laerskole en hoërskole in die dorp en omgewing kan deelneem. Inskrywings vir kuns, foto’s, plaveiselkuns en pottebakkery word ontvang en leerders kan pryse wen. 2016 was besonders vir die ATKV-Struisie- jeugtak, aangesien ons die eerste keer deel was van hierdie projek. Ons is ook een van die borge en sien uit na ‘n lang verbintenis met die kunsdepartment van ons skool.

Vanjaar is dit die derde keer dat die tak deel is van die Drama-aand van Hoërskool Oudtshoorn. Van ons taklede is deel van die produksie en aan die einde van die aand word daar ATKV-sertifikate oorhandig aan die beste akteurs en aktrises. Ons is trots daarop om met hierdie projek geassosieer te word.

Die AJV is gehou in Mei 2016 by Goudini Spa in Worcestor en Marlé-Zanne Barnard is afgevaardig om dit by te woon.         

D.J.McCallum
ATKV-Struisiejeugtak
Organiseerder
  
  
 
Marle-Zanne Barnard en Me McCallum in Worcester vir die AJV van die ATKV namens Struisies