Oudtshoorn High School

DEBAT • PUBLIC SPEAKING • KREATIEWE SKRYFWERK

KREATIEWE SKRYFKUNS

MY OUMA SE KOMBUIS

Ouma se kombuis was soos ‘n hart met vier hoeke – gevul met liefde en lewe.  Jy het altyd met ‘n vol maag en breë glimlag huis toe gestap.

Die lekker van ‘n kuier by Ouma het reeds begin die oomblik wanneer jy die trappies klim. Heerlike aromas het jou by die deur verwelkom en jou neus gekielie. ‘n Honger leeu het oombliklik in jou maag ontwaak.

Oomblikke, nadat die vloerplanke  jou aankoms verraai het, het ‘n kort vroutjie met grys krulle en ‘n skitterwit glimlag om die hoek verskyn.  Haar voorskoot was soos die van ‘n skilder – opgetooi met vlekke van alle kleure en geure.  ‘n Sjokoladekol op haar wang het gewoonlik die verrassing verraai – vandag bak ons bruintjies!

Jou sintuie was altyd deel van die kos se voorbereiding in Ouma se kombuis.  As jy by die deur instap, het allerhande geure jou kom omhels:  gesmelte sjokolade het jou mond laat water, tuisgebakte brood het jou maag laat grom en varsgemaalde meel het jou laat droom oor die moontlikhede.

Ouma en haar kombuis was soos ‘n skildery wat jou aandag gryp en nie wou laat los nie.  Haar rok was die kleure van die lente, asof haar tuin haar omhels het om dankie te sê vir die talle ure wat sy daar spandeer het.  Die sonlig het oor haar gesig gestreel en jy kon die spore van jare se glimlagte langs haar oë sien.  Sy was storieboekmooi.

Teen die suidelike muur van die kombuis het ‘n enorme koolstoof gepronk.  Ek het Ouma aangegaap terwyl sy dit met stoofpolitoer blink gevryf het.  Om die rand het die chroom geblink en ‘n wit porseleinsirkel het die woord “Hartland” omkring.  My gunstelingdeel van die stoof was die lou-oond.  Daaruit het die heerlikste lekkernye hul verskyning gemaak.   Ouma se hande het alles met liefde gemaak.

Terwyl ek Ouma gehelp skoonmaak het, het die reuk van haar parfuum tot in my hart gekruip.  Ouma het soos rose en varsgekerfde kaneel geruik.  Haar hande het die potte in ‘n onderwaterorkes verander soos sy elkeen sorgvuldig skoongeskuur het.

Teen Ouma se ander muur het my menige, gefaalde pogings om haar en haar kombuis te skilder, gepronk.  My tekeninge was net nooit naastenby soos die ware Jakob nie.  Die
geure,  kleure en stories van Ouma se kombuis kon nie op papier vasgevang word nie.  Dit kon net in jou hart gekoester word.

My herinneringe aan Ouma se kombuis is gevul met ‘n magdom stories en sakke vol onvergeetlike oomblikke;  dit is vir ewig deel van my wese.  As ek dink aan daardie hart met sy vier hoeke, sien ek die geeste van mans en vroue terwyl hulle aansit en baljaar by Ouma se groot geelhouttafel.

Die herinneringe aan Ouma kan nooit verdwyn nie.  Hulle het net ‘n nuwe vorm aangeneem.  Alhoewel hulle die herinneringe van ‘n kind is, het hulle deel gevorm van die vrou wat ek vandag is.

LEAH-ZANNE BARNARD
GRAAD 12C
  
 
  
VERWAGTING

Eensaam lê ek
in die onverskilligheid van my drome
en wag,
nes die koue wag om end te kry
so wag die gekneusde Maandag,
en Dinsdag, Woensdag.

Stil, lê ek,
en wag.
Net soos ‘n sin wag op woorde
of voete wag op spore.
Vrydag sien ek huis
maar die tyd korter as die tartende geknou
van die wag.

Net soos my trane
lê ek en wag styf teen die kussing
waar ek hoop soek tydens aande
want dis al wat ek kan doen.
Wag.

Soos oë soms verlang na lig
verlang ek in wagte,
maar wag
het geword soos lewe,
van vyf dae
tot sewe.

                                        Mishka Lerm
  
Where lofty mountains raise their peaks
to a sky of azure blue,
 stands a school of which we're proud to be
 scholars staunch and true.
Where minds are shaped and friendships built
 and characters are formed -
 To God and country, to our school,
 our trust and loyalty.

Struisies Oudtshoorn High School